Monday, August 5, 2013

Elegie aan my toekomstige kind

My liefste kind, ek weet jy speel nog saam die ander apies in die wildtuin, maar mamma gaan vanaand vir jou bietjie vertel oor die lewe en beloftes aan jou  maak . So speel nog lekker saam jou maatjies en wanneer jy reg is om na mamma toe te kom, sal mamma en jou (toekomstige) pappa jou met ope arms ontvang.

Voor ek begin, ek dink jy moet net weet daar is reëls in ons huis. Dis eintlik baie maklik, so bly daar by of dra die gevolge. Ok ok, mamma is soms bietjie sarkasties…maar so leer mens iemand ken. Ok alle grappies op jou apie stokkie, hier volg die reëls:  In hierdie huis is ons uniek, ons maak foute en ons sê ons is jammer. Ons gee tweede kanse, ons hou ons beloftes en ons gee drukkies. Ons vergewe , ons lag baie, ons is geduldig met mekaar en ons is LIEF vir mekaar. 

Sien dis mos nou glad nie moeilik nie! Ander mammas sou sê in hierdie huis koop ons playstations, gee ons lekkers 3 keer per dag en tel ons die klere agter jou op. Skiesie my kind, die lewe is net nie so maklik nie. Inteendeel, als wat mamma en pappa vir jou doen en leer kom uit liefde en is net vir jou beste behae.

Mamma sal sodra jy verstaan, al van kindsbeen af, jou van Liewe Jesus vertel en jou Sy liefde wys. Want sien, ek kan jou van dit vertel , maar as jy dit nie sien nie, hoe gaan jy my glo? Ek sal jou leer tel en skryf en daar sal toegang  wees tot boeke. Kennis en wysheid sal nooit van jou ontneem of weggeneem word nie.  Daar sal speelgoed wees, waarmee jy kan speel, jou verbeelding laat gaan en buite in die tuin baljaar. Want sien, dis hier waar jy vermoë ontwikkel om dalk die beste kunstenaar ooit te word of die beste Springbok rugbyspeler.

Kindjie, baie mammas sal jou eerder voor die televisie plaas, net sodat jy moet ‘shut up’ en hul uitlos in vrede, maar dis hier waar jy  ontneem word van motoristiese ontwikkeling, sosialisering en te leer om te deel. Moet my asb nie verkeerd verstaan nie, jy sal wel weet van die Teletubbies en liewe Heksie, maar dit kom op sy tyd.

Reg en verkeerd sal aan jou verduidelik word, want sien jy stap jou pad alleen, ons kan dit nie vir jou doen nie.Daar gaan tye wees van hartseer, kwaad en spyt, maar die goeie oorheers altyd. Jy sal weet waar om te gaan en hoe om daar uit te kom. Onthou net jou drie sleutels: Geloof, Hoop en Liefde.
Verder sal ons jou plaas in die beste skool, wat jou die beste geleenthede kan bied. Waar jy maats kan maak (wat jy alreeds eintlik van die wildtuin af het, onthou jyJ). Want sien, vriende maak die lewe net nog soeter.

Verder sal mamma en pappa liefde teenoor jou wys en toon. In die sin van hoe ‘n man en vrou teenoor mekaar moet optree. Drukkies en soentjies sal gedeel word.  Etes  word gedoen rondom ‘ n tafel, maak nie saak wat nie, waar pappa as die hoof sal sit en sy gesin beskerm. Waar ons praat met mekaar oor alles en enige iets, raad vra, tug en lesse leer. Waar ons altyd eerlik sal wees, respekvol en diensbaar.

Mamma sal jou wys hoe om jou bedjie op te maak, kamer op te ruim en die skottelgoed te was. Want sien my liewe kindjie, deur die takies te doen, berei dit jou voor vir jou werksplek eendag. Verder sal ons jou leer hoe om geldjies te spaar, te gebruik en mooi te beplan vir die toekoms. Want sien, dit is baie lekker om die mooiste pop, grootste fiets of duurste rekenaar te hê, maar as mens nie verstaan hoe om te waardeer of te prioritiseer nie, is jy eintlik maar slegter af.

Mamma sal seker maak daar is altyd kossies in jou maag, nagereg op die regte geleenthede. Dat jy veilig voel in die huis, dat daar altyd musiek blêr in die agtergrond. Want dis tog so vrolik om ‘n kitaar se geluid te hoor, dromme wat ritmies klop en stemme wat sing. En as niemand kyk, sal ons skelm dans, lag en net laf wees.

Ek en pappa het jou lief, ontsettend baie! Al is jy net nog ‘n droom, weet ek dat op die regte tyd, Kairos, jy jou verskyning sal maak.  En tot dan, sal ek bly wag vir jou regte egte pappa.

Al my liefde, mamma Mounster